In Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee.
– Efesiërs 2:6
Voel dit vir jou of jy as gelowige iewers in ’n geïsoleerde landskap in ’n igloe beland het? Is jou binnewêreld donker en koud met geen uitsig op die son of enige groen blaartjie van hoop nie? Bevind jy jou in ’n ysige geloofseisoen waar jy oorwegend emosioneel en geestelik dood en afgesny van die Here voel?
Moenie bang wees nie. Hou goeie moed. Jy is nie al een wat al so gevoel het nie. Ek self het al deur so ’n tyd gegaan. Baie gelowige mense het hulle al op so ’n winterplek bevind, maar uiteindelik weer hulle hegte verhouding met die Here teruggevind.
Ons geloofsverhouding met God gaan, soos enige ander verhouding, deur toetse en beproewings. Ons beleef nie altyd hoogsomer en maanskyn en rose in ons verhouding met die Here nie. Soms gaan ons deur woestyntye en ander kere bevind ons ons in ’n igloe met dik mure tussen ons en Hom.
Tog kan niks jou ooit skei van sy liefde nie. Die emosionele dood wat jy nou voel, is tydelik en menslik. Dit is seisoenaal. Die sneeu en die ys om jou hart sal weer smelt. Sy lente sal weer deurbreek. Roep gerus na Hom deur die ys rondom jou.
Sien in jou gees hoe die Here jou saam met Hom uit die dood opgewek het en nou vir jou ’n plek in die hemel voorberei. Dit sal ʼn sonnige plek wees – nie ’n ysige igloe nie. Klou net aan Hom vas, al is dit net met jou vingerpunte.
Bruisgebed vir koue seisoene: Vader, dankie dat ek kan weet hierdie igloe waarin ek my bevind, is net tydelik en dat niks my ooit van u liefde sal kan skei nie.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
