My broers [en susters], julle moenie almal leermeesters [juffrouens] wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.
– Jakobus 3:1
As kind het ek graag vir my poppe skoolgehou. Ek was egter ’n baie swak voorbeeld van ’n goeie en regverdige juffrou. Ek het graag my stout poppe met die rottang bygekom en die soetes het ek skaamteloos voorgetrek.
As volwassene het ek ’n dramaskool by my huis in Linden oopgemaak en jong kinders met ’n veel sagter hand probeer leer om skaamte, spraakprobleme en ’n swak selfbeeld te oorwin deur elkeen met dieselfde liefde te hanteer.
Nou, jare later, bestaan die dramaskool nie meer nie, maar die juffrou wel. Ek het nooit in my wildste drome gedink dat ek ’n leermeester sou word wat ander mense probeer help om te groei tot groter insig en geestelike volwassenheid nie. Ek glo die Here het hierdie
onderwyspos vir my geskep en my as juffrou uitgestuur, want ek het myself nooit doelbewus só bemark nie.
Vir baie mense lyk dit lekker om voor ’n gehoor te staan en praat. Dis egter nie altyd so lekker nie. Wanneer jy ’n leermeester is, sal jy strenger as ander beoordeel word. Juis daarom moet ek baie sensitief ingestel wees vir sy Gees se leiding wanneer ek voor mense staan.
Ek maak seker die gehoor weet ek is net as ’n afrigter gestuur, maar is allesbehalwe ’n foutlose speler op die veld. Ek streef elke dag daarna om ’n voorbeeld van Jesus se liefde en genade te wees, maar ek weet ek sal nooit almal tevrede kan stel nie.
Die taak van ’n leermeester is beslis nie om alwetend op ’n podium te klim nie, maar om nederig op jou knieë te bly staan.
Bruisgebed vir juffrouens: Here, ek besef U is die ware leermeester en stel myself oop om elke dag in nederigheid by U te leer en deur U reggehelp te word.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
