Al julle volke, klap julle hande; juig tot eer van God met ’n jubelende stem.
– Psalm 47:2
As student het ek nie baie geglimlag nie. Ek het ’n donker frons en donker klere gedra – selfs ’n donker kopdoek. Ek was oorgewig en onseker van my identiteit en my talente en my gawes. My uiterlike voorkoms was ’n weerspieëling van my troebel innerlike wêreld, van
my morbiditeit en swaarmoedigheid. Van juig was daar in daardie storm-en-drang-jare glad nie sprake nie.
My swak selfbeeld en donker innerlike het my verhinder om my studentelewe soos ’n onbevange jongmens te geniet. Die lewe was vir my ’n opdraande stryd en ek het koponderstebo rondgesluip.
Ook as jong vrou was ek jare lank ’n geslote introvert. Ek het gesukkel om myself te aanvaar en lief te hê. Ek moes ’n lang pad saam met die Here stap om van my swaar bagasie ontslae te raak.
Namate my verhouding met die Here verdiep het, het iets in my somber gees egter begin verskuif. Die swaarmoedigheid, onsekerheid, skuld, wrokke, skete en verleenthede het al minder geword … en die blydskap al meer. Ek het geestelik ge-detox van die gif wat my jare lank verlam het. Ek het ’n nuwe identiteit in Hom gevind en ontwikkel in ’n vrou met selfvertroue.
Deesdae juig en bruis ek baie makliker. My gees is soveel ligter as jare gelede. Ek is baie ouer, maar tog ook baie jonger. Vra die Here om jou te help om die donker kleed van jou verlede te verwyder en jou te leer om te dans en te jubel op die maat van ’n nuwe lied.
Bruisgebed vir detox: Here, kom werk in my! Help my om ontslae te raak van alle giftige invloede wat my potensiaal en groei ondermyn. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.