“Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig
van hart, en julle sal nuwe moed vir julle lewe kry. Want my juk sal sag op julle skouers rus en my las is lig om te dra.”
Matteus 11:28-30
Ek dink die meeste van ons voel elke nou en dan heeltemal uitgeput en uitgebrand onder die juk wat ons elke dag moet optel en dra. Ek weet my eie skouers voel soms of dit knak onder die baie woorde wat ek elke dag voor die rekenaar moet sit en skryf. Soms voel dit sommer of ek ’n senuwee-ineenstorting gaan kry. Wanneer ek so voel, weet ek dis tyd om my ongemaklike juk af te gooi en Jesus se ligte en sagte juk op te neem.
The Message gee ’n vreeslike mooi vertaling van vandag se verse. Ek deel dit graag met die uitgebrande vroue wat my naweekretraite bywoon: Walk with me, and work with me – watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.
Ek noem hierdie gedeelte die www.webtuiste in my gedagtes. Wandel – verlaat jou gemakstoel en wandel saam met die Here na ʼn nuwe innerlike plek. Werk – doen die huiswerk wat Hy vir jou gee in gehoorsaamheid. Waarneem – let fyn op watter ekonomiese manier Hy dinge hanteer het toe Hy op aarde was en volg sy voorbeeld.
Bruisgebed vir ’n ligter juk: Here Jesus, dankie vir u juk wat ons in staat stel om ligter en vryer te leef. Ek wil wandel en werk en waarneem saam met U en u manier van doen volg sodat ek kan groei.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
