“My kind, jy moet dit nie geringskat as die Here jou dissiplineer nie. Moenie ontmoedig word as Hy jou aanspreek nie. Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is; Hy tug elkeen wat Hy as kind aanneem.”
– Hebreërs 11:5-6
Ek het net een kind, maar ek het vinnig geleer dat liefde alleen nie genoeg is vir goeie kinderopvoeding en ouerleiding nie. Dissipline en tug is net so noodsaaklik as jy jou kind wil toerus om eendag as ʼn goed aangepaste volwassene in die samelewing te funksioneer.
Al is ons hoe oud of jonk, en selfs al het ons reeds kinders en kleinkinders van ons eie hier op aarde, is elke gelowige steeds ’n jong kind van die wyse Allerhoogste. As sy geliefde kinders is ons in die wonderlike posisie om nie net sy liefde nie, maar ook sy ouerleiding,
dissipline en teregwysings te ontvang.
Al geniet ek nie altyd die Here se dissipline en teregwysings nie, aanvaar ek dit met ’n oop gemoed. Ek weet dat ek as ouer dikwels my seun, Frankie, tereggewys het, juis omdat ek vir hom lief is en sy beste belange op die hart dra. Net so weet ek my hemelse Vader het my innig lief en dissiplineer my nie om my seer te maak, af te kraak of te ontmoedig nie; nee, Hy dissiplineer my juis om my geestelik te versterk en my op te bou en toe te rus vir my reis vorentoe.
Vertrou op die Here se leiding as jou hemelse Vader. Hy is wys en regverdig. Ek vind sy leiding is altyd ’n bruistablet vir my siel – ook sy dissipline en teregwysings.
Bruisgebed vir kinders: Here, dankie dat U my Vader is. Ek aanvaar u teregwysings omdat ek weet dat U my liefhet en net die beste vir my wil hê.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
