Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep. Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra, Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle – Psalm 145:18-19.
Tydens ’n besoek aan Paternoster wys die eienaar van ’n vissermanshuis teenaan die see vir ons die klein glasruit wat in die skoorsteen ingemessel is – net dáár waar die houtstompe gepak word en die vlamme helderrooi en oranje opspring.
Die gasvrou vertel: “Vroeër jare het elke skoorsteen hier so ’n ruitjie gehad. Wanneer die bote snags op die oopsee was, het die vroue tuis die kaggelvure gestook. Die vissermanne kon die liggies in die donker sien.”
Hulle het geweet: Waar die flikkerende vlammetjies was, was land. En ’n veilige, warm tuiste.
Die vroue het vir die veilige terugkeer van hul geliefdes gebid. Hulle was op hul pos as voorbidders. Die mans het weer hul oë op die vlammetjies in die skoorstene gehou. Dit was dikwels hul enigste vashouplek en hoop in onstuimige nagte op die oopsee.
Ons moet vir mekaar bid. Stilweg of hardop. Dit is ’n voorreg, maar ook ’n opdrag. Wanneer mense in ’n lewenstorm verkeer, is hulle meermale so op hul oorlewing ingestel dat hulle nie die emosionele of geestelike krag het om self te bid nie. Wanneer hulle weet dat iemand anders se gebedsvlammetjie vir hulle brand, bring dit dikwels kalmte en gemoedsrus.
Ons mag nie dat ons vlammetjies uitgedoof word nie.
Here, help my om getrou te wees en my gebedsvuurtjie elke dag te stook. Amen.