Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.”
– Johannes 8:7
Ek kom nie uit ’n kerklike agtergrond nie. My ouers was teen die kerk en Christenskap. Hulle het my nie aangemoedig om kerk toe te gaan nie. Hulle rede was dat die kerk oorwegend vol skynheilige mense is, vol veroordelende klipgooiers wat op ander se sondes fokus
eerder as op hulle eie sondes … asof hulle nie ook, soos die res van die mensdom, in glashuise woon nie.
Ek kan nie sê dat my ouers jare gelede nie in ’n mate reg was nie. Soos baie ander mense was ek ook al die teiken van klippe in die vorm van ongenaakbare en afbrekende woorde wat na my toe geslinger is. Dalk is jy ook al met hierdie klippe bestook.
In die teksvers hierbo sien ons Jesus se mening oor mense wat ander graag wil voorhou as ’n voorbeeld van ’n tipiese sondaar en hulle wil stenig. Let egter op dat Jesus, wat vlekloos en sonder sonde was, nie eerste ’n klip opgetel het om hierdie skarlakenvrou te stenig nie.
Nee, Jesus het in die sand geskryf en gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.”
Niemand kon ’n klip optel nie. Almal moes maar omdraai en wegstap. Jesus praat daarna alleen met die sondige vrou. Hy gebruik sagte woorde en vra haar om nie meer te sondig nie.
Sit vandag daardie klippe in jou hart en hande neer, dié klippe wat sy Naam soveel skade aandoen. Of vra Jesus om jou te help om liewer ’n altaar of ’n brug van jou klippe te bou.
Bruisgebed vir Jesus-volgelinge: Here Jesus, leer my om iets mooi te bou van klippe, eerder as om ander mense daarmee te gooi. Leer my om u deernis en liefde uit te leef. Tot eer van
u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.