Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen – 1 Tessalonisense 5:11.
Barnabas was een van die minder bekende apostels. In Handelinge 4:36-37 lees ons die volgende van hom: “Josef ’n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.”
Barnabas het stil-stil en sonder ophef sy gang gegaan. Tog het hy ’n besondere bydrae tot die eerste kerk en die vestiging van gemeentes gemaak. Hy is deur die Heilige Gees geroep om saam met Paulus op sendingreise te gaan. Hy was meestal in Paulus se skaduwee, maar ons lees dat hy jong gelowiges begelei en die evangelie aan die heidene bedien het.
Barnabas was gasvry en vrygewig. Waar hy gekom het, het hy mense bemoedig. Wanneer medegelowiges mismoedig geword het, het hy hulle aan God se beloftes herinner. Barnabas het volhardend op God bly hoop.
Om ander te bemoedig vra dat jy sélf moed sal hê. Die HAT omskryf “bemoedig” as “met moed besiel”. Moed is ’n term wat dikwels vir soldate gebruik word wat in die aangesig van die dood onverskrokke voortveg.
Moed verg dus dapperheid. Wanneer mense rondom jou moed verloor het, moet jy kan opstaan en voor stap – sonder om terug te deins. Jy moet kan bemoedig en inspireer. Jy moet die vaandel van hoop aangee.
Ons moet Barnabas-mense vir mekaar wees.
Here, skenk my moed sodat ek op my beurt ander kan bemoedig wanneer hulle uitsigloos en sonder lewensmoed is. Amen.