Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.
– 1 Petrus 5:7
Het jy al gewens jy kan al jou bekommernisse in ’n swart vullissak gooi en dit in die see gaan gooi? Of dit sommer buite in die straat in ’n asblik gooi sodat die vullislorrie dit uit jou lewe kan verwyder?
Ons almal gaan deur tye van bekommernis. Ons kan mekaar se laste help dra – maar niemand kan iemand anders se diepliggende bekommernisse wegneem nie. Daar is mense wat graag hulle emosionele probleme op ander se skouers aflaai, met die hoop dat dit sal
verdwyn. Niemand kan egter iemand anders se stres en laste onbepaald dra nie. Ons elkeen het ons eie emosionele bagasie om te dra.
As jy geweldig swaar dra en jou rug onder al jou bekommernisse knak, is daar ’n wonderlike bruistablet in die Skrifgedeelte hierbo: Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Die Here nooi jou uit om by Hom af te pak en kommervry te begin leef. Hy het ’n liefdevolle oor en baie sterk arms wat nooit moeg sal raak nie.
Waaroor bekommer jy jou op hierdie oomblik? Is dit jou gesondheid? Jou geldsake? Jou opstandige kinders? Om jou te bekommer oor dinge buite jou beheer, gaan nie die situasie verander nie. Die enigste uitwerking wat bekommernis het, is om jou uit te put.
Nader tot die Here wanneer jy onrustig en gestres voel. Hy nooi jou om alles wat jou bekommerd maak op Hom te werp en ’n kommervrye lewe te leef met die wete dat Hy jou belange op die hart dra en in beheer is.
Bruisgebed vir bekommernis: Here, dankie dat U my nooi om my bekommernisse op U te werp. Ek kies om my onrustige gemoed op U skouers neer te lê sodat ek ’n kommervrye lewe kan geniet.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
