Skinderstorie is so soet soos lekkernye, dit sink tot diep in jou gemoed.
– Spreuke 18:8
As kinders was ons baie lief vir lekkers. Ek en my broer en suster kon pakke soetgoed met gemak verslind sonder om ooit versadig te raak vir die soet smaak. Ons het wel baie meer langtand aan ons kool, pampoen en spinasie geëet …
Vandag het ek nie meer dieselfde lus vir lekkers nie. Ek verkies ʼn bord gesonde kos met groente en slaai. Dit laat my net soveel beter voel en dit het soveel meer waarde vir my liggaam se gesondheid.
Net so het my voorkeure vir dinge waarmee ek my siel voed mettertyd verander. Die soetgoed vir my siel is nou dinge wat my opbou, nie afbreek nie. Dinge wat mooi is, nie lelik nie.
Ek is nie meer gretig om my ore uit te leen aan afbrekende skinderstories oor ander mense se lewe nie, dikwels boonop mense wat ek nie eens ken nie. Ek is ook nie een wat geniepsige skinderstories oor ander die wêreld instuur nie. Daar is soveel lekkerder dinge om te doen en om oor te praat as om ander mense die teiken van jou skerp tong te maak.
Die Woord waarsku ons teen die verslawende uitwerking van skinder. Dit word vergelyk met soet lekkers wat jy maklik afsluk. Hierdie “lekkers” sink tot diep in jou gemoed en het ’n negatiewe uitwerking op jou menswees.
Is jy verslaaf aan skinderpraatjies? Vra die Vader om vir jou nuwe soetgoed vir jou siel te gee. Versprei die Goeie Nuus wat ander mense sal opbou en laat bruis.
Bruisgebed vir skinderbekke: Here Jesus, ek bely my swakheid om te skinder. Ek commit my om van vandag af my dieet aan te pas. Ek gaan die skinderpraatjies laat staan en myself met
opbouende gesprekke voed. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
