Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens.
– 2 Korintiërs 5:17
Daar is biljoene mense op die aarde – mense van verskillende lande, tale, kulture, velkleure en geloofsoortuigings. Almal is egter mense deur die een almagtige God geskep en sy asem is in elkeen.
Wat maak ons wat onsself Christene noem anders as ongelowige mense of mense wat anders as ons glo? Die Skrifgedeelte hierbo gee vir ons ’n goeie aanduiding wat ons anders maak: Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens.
Wat beteken hierdie nuwe mens vir jou? Vir my beteken dit dat Christus my vernuwe het en dit elke dag steeds doen. Daar is ’n nuwe bewussyn en onderskeidingsvermoë in my weens my diep verhouding met Hom. Ek sien die verskil tussen die ou, sondige mens en die radikaal nuwe mens in Christus. Ek woon nou in Hom, en Hy in my.
Daarom sterf ek elke dag my ou, sondige mens af. As nuwe mens in Christus het ek nou nuwe voorregte wat baie ander nie het nie. Ek het 24/7 toegang tot Jesus se lieflike mens-eienskappe. Dit is amper soos ’n gratis oordoen-sessie by ’n skoonheidsalon.
As nuwe mens is ek bewus dat eienskappe soos rassehaat, afguns, onderduimsheid, leuens, valsheid, hoogmoed, skinderpraatjies, hebsug, onsedelikheid, inhaligheid, ekkerigheid, jaloesie, onvrede, koudheid, wrokkigheid, onvergifnis en ’n harde hart nie in hierdie nuwe mens hoort nie. Dit hoort by die ou, sondige mens wat ek afgesterf het.
Is jy ’n nuwe mens in Christus? Maak ’n lys van die ou, sondige eienskappe wat jy afgelê het toe Jesus jou nuutgemaak het. Trek dan ’n streep daardeur.
Maak dan ’n lys met die nuwe eienskappe wat jy nou elke dag tot eer van sy Naam wil uitleef.
Bruisgebed vir Christene: Here, ek onderneem om elke dag die ou, sondige mens af te sterf en te leef met my nuwe bewussyn dat ek ’n nuwe mens in Christus is. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.