Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank – Daniël 6:11.
Ons word nie vanself biddende ouers nie. Ons word dit deur ’n wilsbesluit en dissipline. Wanneer ons besef dat ons, asook ons kinders, armer sonder ons gebede is, moet dit ons aanspoor om biddend te leef. Met ons volgehoue gebede eer ons God en erken sy almag teenoor ons magteloosheid.
Indien ons ’n kaart van ons geestelike reis sou kon trek, sal ons oral by kruispaaie gebedsmerkers vind. Op ’n bepaalde tydstip kan ’n ouer se gebed ’n koersverandering in ’n kind se lewe bring. Jare later besef die kind: “O ja, dít was die keer toe my ma vir my gesê het: ‘Ek bid vir jou, my kind. Ek hou nie op nie.’”
Ons mag nooit die krag van ’n enkelgebed onderskat nie. Eendag sal ons dankie sê vir gebede waarop God “ja” geantwoord het. Ons sal ook dankie sê vir gebede waarop Hy “nee” gesê het, want ons sal die rede verstaan.
Daarom mag ons nie ligtelik vir ons kinders sê: “Ek bid vir jou,” nie. Om te bid is ’n gesprek met die heilige God. Dit is ’n gesprek wat lewens kan verander.
Here, help my om nooit te dink my klein gebedjie is kragteloos nie. Amen.