“God het tog gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ Maar julle bepaal: ‘As iemand vir sy pa of sy ma sê: Die hulp wat u van my sou kon kry, maak ek ’n offergawe vir God, dan hoef hy nie meer sy plig teenoor sy pa na te kom nie.’ So ontneem julle die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike” – Matteus 15:4-6.
Die Fariseërs het mense mislei. God se gebod – eer jou vader en jou moeder – het hulle vir eie gewin verdraai. Hulle het mense aangemoedig om die geld wat hulle vir hul bejaarde ouers sou gebruik, vir offergawes aan te wend. Daarmee kon hulle hul gewete sus. Dit was immers vir ’n goeie doel.
Ons gebruik soms verskonings wat baie geldig klink om ons te verontskuldig wanneer ons nie genoeg tyd en aandag aan ons bejaarde ouers gee nie.
Ons sê maklik: “Dit is vir hul eie beswil.” Ons neem besluite sonder om hulle te raadpleeg, byvoorbeeld om hulle in ’n tehuis vir bejaardes te plaas. Dit kan waarskynlik die beste oplossing wees, maar indien ons hulle slegs eenkant wil hê sodat ons ons eie lewe ongehinderd kan lei, moet ons weer dink. Ouers mag nie ervaar dat ons hulle “wegbêre” om makliker ons eie gang te kan gaan nie.
Ons motiewe moet suiwer wees. Indien kinders ’n goeie verhouding met hul ouers het, sal hul besluite uit respek en met deernis geneem word terwyl dit terselfdertyd hul sorg en liefde bevestig.
Here, laat ek altyd uit ’n plek van liefde optree. Amen.