Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie (Kolossense 2:8).
In die Kolossensebrief waaruit ons tekste vir die volgende paar dae kom, spreek Paulus ‘n verskynsel aan wat in ons tyd redelik algemeen voorkom.
Dit is dat mense óf die geloof totaal afsweer, óf ‘n soort allegaartjie daarvan maak.
Dié allegaartjie-geloof is ‘n mengsel van verskillende godsdienste of gelowe. In Kolosse het dit destyds bestaan uit elemente van die Frigiese natuurgodsdiens, Persiese mistiek en die Joodse wettisisme, met bo-oor alles ‘n sousie Christendom.
In ons tyd lyk die mengsel wel anders. Om mee te begin, miskien tog iets van Christus. Maar dan daarbý dalk ietsie van Sokrates, Boeddha en selfs Mohammed. Die motief hieragter is verstaanbaar – dit is om alle godsdienste te respekteer en van hulle te leer. Ja, selfs die beste uit almal te haal en dit dan saam te voeg tot ‘n koherente soort lewensfilosofie.
Die gevaar is natuurlik dat ‘n mens in die proses die verskillende godsdienste self kan versnipper en relativeer. En so ‘n geloof ontwerp wat net op eie smaak en gerief gegrond is. Jy glo eenvoudig wat jóú geval en vir jóú sin maak.
In sy tyd het hierdie allegaartjie-geloof Paulus verontrus. Vandaar sy oproep aan die gemeente in Kolosse om nie deur enige teorie of wysheid meegevoer te word nie. En om nié die unieke en sentrale betekenis van Christus ooit te vergeet of te versmaai nie.
Daaroor by uitstek gaan die brief aan die gemeente in Kolosse.
O Here, hou ons oë vandag weer gevestig op Jesus – die Begin en Voleinder van ons geloof
Carel Anthonissen