“Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie” (Lukas 12:24).
Dit klink na ʼn fabel en tog is dit waar.
ʼn Vrou vertel dit vir my met groot erns en verwondering. Hoe sy in ʼn tyd van nood gebid het dat God tog ʼn sigbare teken van sy teenwoordigheid en sorg aan haar sal stuur.
En toe gebeur dit …
Eers vlieg ʼn voëltjie haar woonstel onverwags binne, gaan sit reg voor haar … en verdwyn ná ʼn rukkie weer. ʼn Uur later, terwyl sy voor ʼn koffiewinkel in haar motor wag, hoor sy ʼn getik aan haar venster. Bang dat dit ʼn vreemdeling kan wees, kyk sy aanvanklik nie op nie. Totdat die getik aanhou en sy tot haar verbasing ontdek dat dit ʼn ander voëltjie is wat haar aandag vra.
Sy wys my die video op haar selfoon. Heel merkwaardig. Die voëltjie fladder met sy vlerke teen die ruit en kyk sonder ophou na haar, asof hy iets wil oordra.
Op pad na die middedorp ry ʼn motor met ʼn ongewone nommerplaat voor haar. Dit bevat die eienaardige letters LUK 12. Dit jaag haar Bybel toe, waar sy ons teks vir vandag ontdek. ʼn Teks wat haar herinner dat God wat vir die voëls sorg ons nog baie hoër ag. En vir ons sorg.
Toeval? Dit kan wees. Baie sal dit ook so sien. Maar vir hierdie vrou was dit die vrug van gebed en ʼn geloof wat elke dag soek om God se sorg in die mees alledaagse dinge te ontdek.
Sy noem dié geloofsoeke haar derde oog – ʼn oog wat ons almal volgens haar het, maar wat ons bitter min gebruik.
Here, dankie dat wanneer ons bid en opmerksaam leef U op onverwagte manier aan ons raak. Maak ons oë vandag weer daarvoor oop. Amen.
Carel Anthonissen