Ek is baie bly in die Here, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel – soos ’n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ’n bruid wat haar versier met haar juwele – Jesaja 61:10 (1933/1953-vertaling).
Ons as verlostes behoort ’n dankbaarheidslewe te lei. Dikwels sê ons “ja” vir ons verlossing, maar “nee” vir dankbaarheid. Ons lewe ’n lewe van onvergenoegdheid, bedruktheid, hooploosheid, uitsigloosheid. Ons lewe verskil nie ooglopend van mense s’n wat Christus nié as hul Verlosser aanvaar het nie. Eers wanneer ek my dankbaarheid elke dag uitleef, begin ek die volheid van my verlossing verstaan.
Die titel van Ann Voskamp se boek One thousand gifts is ontleen aan ’n uitdaging wat ’n vriendin aan haar gestel het: om een duisend klein dingetjies neer te skryf wat haar hart bly maak.
Eers het dit vir haar gevoel asof sy bloot die mooi dinge neerskryf wat sy deur die dag oplet. Mettertyd het haar neerskryf van alles wat goed en suiwer en lieflik is ook ’n dankiesêbrief aan God geword. Geleidelik het die begrip gegroei dat elke klein gawe wat sy benoem inderdaad ’n geskenk van God is. Dit is nie bloot ’n doudruppel, oggendmis of die geur van gebakte brood nie.
Nou kon sy werklik glo: God is alles. In elke klein dingetjie. In elke oomblik van my lewe, ook wanneer dit seermaak.
Dankie, Here, vir al die klein bewyse van u liefde en sorg. Amen.