Boodskap vir Vandag

Search

’n Geskenk van Pa

Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie – Jakobus 1:17.

Een ysige winter bel ek my kinders in die Ceres-Karoo. Die sneeu lê diep en ek wil hoor hoe dit gaan.

Die vierjarige wat antwoord, lig my in oor alles wat in en om die huis gebeur. Pappa is terug van die werk af. Mamma versorg die nuwe baba.

“En raai wat, Ouma? Pappa het vir ons sneeu by die werk gekoop!” In my gedagtes sien ek hoe ’n pa skopgrawe vol sneeu in die vrugtekratte agterop sy bakkie skep om vir sy kinders te neem. Ek dink aan sy opgetoënheid by die gedagte aan sy kleuters se gesigte wanneer hy tuis kom. Hul eie-eie sneeu wat hul pa vir hulle “by die werk gekoop het”!

’n Pa hoef nie groot dinge te doen of baie geld uit te haal om sy kroos gelukkig te maak nie. Hy hoef maar net “Pa” te wees. ’n Pa wat die beste vir sy kinders wil hê. ’n Pa wat sy kinders wil sien lag en in sy arms opraap wanneer hy die voordeur saans oopmaak.

God is ons Pa. Soms vermaan of tug Hy ons, want Hy wil hê dat dit met ons goed gaan en ons oorvloed beleef. Niks verskaf Hom groter vreugde as wanneer sy kinders na Hom aangehardloop kom en Hy hulle in sy liefde kan toevou nie.

En dan verras Hy ons keer op keer met die goeie. Soos ’n pa wat sneeu van die werk af huis toe bring!

Here, dankie vir u sorg. Amen.

No data was found

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed