“Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig” – Johannes 7:24.
Toe die ontdekkingsreisiger Edward John Eyre oor Australië se verlate Nullarborvlakte getrek het, was hy aanvanklik skrikkerig om die inheemse bevolking te nader. Maar hy het sy vrees opsy geskuif en toegelaat dat hulle hom leer hoe om water uit sandduine en bloekombome te kry. Eyre se lewe is gered omdat hy hul hulp aanvaar het.
Ons maak dikwels die fout om mense op die baadjie te takseer. Ons oordeel maklik en hang ’n bepaalde etiket om iemand se nek – sonder dat ons iets van die persoon weet.
In die rolprent Good Will Hunting is die hoofkarakter ’n skoonmaker by ’n universiteit. Weens sy persoonlike omstandighede het hy nooit die kans gekry om sy fenomenale wiskundige vermoëns te ontwikkel nie. Een middag los hy ’n baie ingewikkelde formule op wat nie een van die studente kon uitwerk nie, en wat die professor onvoltooid op die bord gelaat het. Natuurlik tot die sogenaamde “slim” studente se verleentheid!
Ons moet leer om met Christus se oë na ander te kyk. Sonder vooropgesette idees, oordeel of meerderwaardigheid. Ons moet die moontlikhede in iemand probeer raaksien, nie die mislukkings of misstappe nie. Ons moet genadig wees, soos wat Christus ons genadig is en bly glo in ons menswees.
’n Mens hoor gereeld van leiersfigure in die samelewing wat op skool gespot en selfs geboelie is. Maar dan hoor jy van iemand wat langs die pad in die persoon geglo het en hom of haar as’t ware uit die donkerte opgelig het.
Ons kan daardie “iemand” wees.
Here, ek wil met u oë na ander kyk. Amen.