Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle – 1 Tessalonisense 5:16-18 (1933/1953-vertaling).
Bostaande is ’n lywige opdrag. Om altyddeur bly te wees. Om sonder ophou te bid. Om in alles dankbaar te wees. Ons kry dit nie reg nie. CS Lewis het gesê: “Wanneer jy aan die wêreld dink as ’n plek wat slegs bedoel is vir ons geluk, sal jy dit byna ondraaglik vind. Dink aan die lewe as ’n leerskool en plek waar jy gevorm word. Dan raak dit heel aanvaarbaar.”
Ons moet leer om dankbaar te wees. Dit gebeur nie vanself nie. Dit moet ingeoefen word. Gebed is die manier waardeur ons kan leer om ondankbaarheid deur dankbaarheid te verdryf.
Andrew Murray skryf in Waiting on God: “Wanneer ons op God wag, dink ons heel eerste aan die God op wie ons wag. God smag daarna om Homself te openbaar, om ons met Hom te vul. Voordat ons dus bid, moet ons in stilte voor Hom buig. Ons moet onthou wie Hy is, hoe naby Hy is, hoe seker Hy kán en sál help. Ons moet wag op God totdat ons wéét ons het Hom ontmoet, dan sal ons gebed heel anders wees.”
Wanneer Paulus die gelowiges opdrag gee om te bid, is danksegging altyd deel van sy opdrag. Filippense 4:6 lui: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Smeek en dank. In dieselfde asem.
Here, help my om te onthou dat dinge in plek val wanneer ek met ’n dankbare hart lewe. Amen.