Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met ‘n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word (Hosea 1:2).
Onlangs het ek weer die boek Hosea gelees.
Wat ‘n vreemde, maar ontroerende verhaal!
Van ‘n profeet wat deur God geroep word om ‘n bykans ongehoorde en uiters pynlike daad te verrig – om met ‘n ontugtige vrou te gaan trou. Kortweg en meer kru gestel: Hosea moes vir hom ‘n slet, ‘n hoer, as vrou kies. Dit was God se opdrag.
Soos wat die verhaal ontvou, word dit duidelik waarom die God van Israel dít wou hê. Dit was om só onbegryplike en troue liefde aan God se afvallige volk te verklaar. Om deur Hosea se vreemde daad iets van die onmeetlike diepte en omvang van God se liefde vir Israel te weerspieël.
Sodat al was hulle ook hóé ontrou, al het hulle God ook met hóéveel minnaars – in dié geval Baäl-afgode – bedrieg en verloën, hulle moes weet: God kan dit nie oor God se hart kry om hulle te verlaat of prys te gee nie. Daarvoor het God hulle té lief.
Hosea se daad moes dít duidelik maak.
Weet jy dat hierdie woord vandag ook vir jou bedoel is? Dat al het jy ook hóé diep geval, selfs jou naam in die proses verloor, jou waardigheid geskend, God jou nooit sal vergeet of verlaat nie?
Hoor dit tog weer: “Al veroordeel jou hart jou ook, God is meer as jou hart.”
Here, dankie vir u groot liefde waardeur U my vandag weer vashou. Amen
Carel Anthonissen