Ek druk dit op julle hart . . . Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.
– Efesiërs 4:1
’n Nartjie het ’n baie kenmerkende geur. Wanneer jy ’n nartjie afskil, ruik mense dit sommer onmiddellik. As jy die vrug skelm sou wou eet, sou dit baie moeilik wees. Mense sal dit van ver af kan ruik en as ’n nartjie kan uitken. Geen ander vrug ruik so nie.
Ek onthou toe ek eenkeer oorsee by my suster gaan kuier het, het sy vir my ’n bak met nartjies in my kamer neergesit. Sy het gesê sy het elke oggend presies geweet wanneer ek opstaan omdat sy die nartjies wat ek afskil deur die deur kon ruik.
Ons as gelowiges is soos nartjies wat ’n kenmerkende geur afgee wanneer ons buitelaag afgeskil en ons ware hart ontbloot word. Wat is jou hart se geur? Herinner dit ander mense aan die Here se liefde? Of aan sy vrede? Dra jy die salwende geur van sy genade en deernis
diep in jou hart?
Met Christenskap kom verantwoordelikheid – ook die verantwoordelikheid om te let op die ware geur wat jy as gelowige in jou hart berg, onder al jou buitelae. Het jou ontblote hart die verkwikkende geur van nartjies? Of getuig jou gesindheid en optrede teenoor ander
eerder van ’n onwelriekende muishondhart?
Vandag se vers lê klem daarop dat ons optrede altyd in ooreenstemming met ons roeping as gelowiges moet wees: Ek druk dit op julle hart … Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees kenmerkend as ’n kind van God.
Bruisgebed vir ’n lieflike hartsgeur: Here, maak my bewus van u liefdevolle eienskappe en kweek dit ook in my. Rus my toe met ’n hartsgeur wat ander aan u eienskappe herinner.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
