Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees – 2 Korintiërs 12:9.
Die teoloog Willie Jonker skryf: “Daar is ’n groot verskil tussen die dankbare ontvangs van God se gawes in die nederige erkenning dat dit onverdiende geskenke is en die trotse hoogmoed op ons gawes asof dit ons eie prestasie is dat ons dit besit en dat ons daarom beter en hoër as ander is.”
Wat Jonker hier beskryf, is geestelike hoogmoed. Hy noem dit die ergste vorm van hoogmoed.
Mense wat werklik geesvervuld is, is altyd nederig. Hulle roem nie in hulleself of in hul eie geesvervuldheid en al die gawes wat hulle daarmee saam ontvang het nie. Nee, hulle roem in die wonder van God se genade. Wanneer mense egter oor hulleself en hul eie geestelike “prestasies” begin praat, skuif hulle Christus heeltemal op die agtergrond.
Jonker skryf dat geestelike hoogmoed mense eng en wetties maak, juis omdat hulle moet wys dat hulle “nóg Christeliker, nóg geesteliker, nóg nougesetter, nóg offervaardiger, nóg kragtiger, nóg skerper in hul oordeel oor ander kan wees as die ‘gewone’ Christene op wie hulle neersien”.
Selfs Paulus moes leer dat God se genade vir hom genoeg is en dat God se krag eers tot volle werking kom wanneer ons swak is.
Here, help my onthou dat geestelike meerderwaardigheid dwaasheid is. Amen.