“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee” (Eksodus 20:12).
Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe (Efesiërs 6:14).
ʼn Spesiale vriendin vertel onlangs tydens ʼn gesprek oor die opvoeding van haar kinders dat sy altyd net twee reëls gevolg en aan hulle voorgehou het.
Die eerste was dat hulle hulle ma te alle tye moes respekteer. Dit was haar oortuiging dat wie geleer het om hulle ma as die eerste vrou in hulle lewe te respekteer, dit makliker sou vind om daarna alle ander mense met respek en eerbied te behandel.
En hoe reg is sy nie. Want hoe jy – veral as man – jou ma en, saam met haar, alle ander vroue behandel, is meestal ʼn goeie barometer van beskaafde optrede. Ook van gesonde sosiale aanvoeling en vaardigheid.
Haar tweede reël, wat ewe belangrik is, was dat haar kinders te alle tye die waarheid moes praat. Want wie die waarheid praat, só het sy geredeneer, hoef nooit twee maal te dink of verder te verduidelik nie. Hulle sal bekend word as mense met integriteit wie se woorde en dade jy áltyd kan vertrou.
Dié vriendin kon hierdie reëls met selfvertroue toepas omdat sy dit self geëer en uitgeleef het.
Geen wonder haar kinders sien haar vandag nog as ʼn soort engel nie.
Here, leer ons vandag om in u wil te leef sodat ons u seën kan ervaar. Amen.
Carel Anthonissen