Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” (Markus 15:18).
By Markus het die lyding en kruisdood van Jesus ook nog ‘n ander belangrike betekenis gehad.
In Jesus se dood aan die kruis word onder andere ook die wreedheid, die onreg en onderdrukkende mag van die owerhede van destyds onthul en ontmasker. Want net soos Johannes vroeër, sterf Jesus onskuldig, word Hy ten onregte veroordeel.
En tóg is die kruis vir Markus allermins ‘n teken van onmag en totale verlies. Inteendeel, op ‘n vreemde, selfs ironiese manier, bevestig Jesus se kruisdood sy koningskap, sien ons daarin ‘n magtige teken van sy oorwinning oor die donker magte.
Geen wonder dat in twee en dertig verse daar ses keer na Jesus as koning verwys word nie, die Één aan wie alle mag in hemel en op aarde nou behoort!
In ‘n wêreld waar politieke mag misbruik word en korrupsie hoogty vier, bly dit ‘n oneindige troos om te weet dat die heerskappy aan Christus behoort – Hy wat sonder ophou gestry het vir die waardes van eerlikheid, liefde, vrede en geregtigheid.
Wie Jesus volg, hoef inderdaad nooit magteloos of moedeloos te voel nie. Hulle mag ook opstaan en stry vir beter dinge.
Here, dankie dat U die Here is. En dat ons maar in U Naam mag opstaan en stry vir beter dinge. Amen
Carel Anthonissen