Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes.
– Galasiërs 6:7
Hoe lyk jou oes? Maar bra oes? Of voel jy tevrede wanneer jy deur jou lande stap? Om enige oes te evalueer moet jy kyk na die saad wat jy gesaai het. Die woord sê: Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes.
Iemand wat gedurig afskeepwerk doen en finansiële hoeke vir eie gewin probeer sny, kan nie verwag om op die lang duur ’n goeie reputasie en ’n goeie oes op te bou nie. Dit geld ook vir die een wat gedurig lieg. Al kom jy dalk ’n rukkie met hierdie geboer met leuens weg, het die waarheid ’n lang marathonasem en ’n manier om die leuens in te haal en al jou toekomstige oeste te vernietig.
Hoe lyk jou vriendskapsbeddings? Floreer hulle, of het hulle die afgelope jare gekwyn? Wanneer ons nie opregte omgeeliefde en gehaltetyd in ons vriendskappe saai nie, kan ons nie ’n rojale, lojale oes van vriende verwag nie. ’n Ander rede vir ’n swak oes van vriende is
die skinderpraatjies wat ons saai. Uit hierdie saad wat ons met ons tong saai, spruit net vernietigende onkruid wat ons vriendskappe sal versmoor.
Hoe lyk jou gesondheidsbedding? Gaan jy gebuk onder siekte en moegheid? Slaap jy sleg? Dalk voel jy so oes omdat jy aan ongesonde gewoontes en stres ’n blyplek in jou lewe gegee het. As jy ongesonde gewoontes navolg, kan jy nie ’n gesonde liggaam verwag nie.
Hoe lyk jou geloofsbedding? Is daar kleurvolle blomme om te oes, of sien jy net onkruid en dorings op jou landerye?
Die oes word bepaal deur die saad wat jy saai.
Bruisgebed vir ’n goeie oes: Here, help my om u goeie saad in elke faset van my lewe te saai sodat ek ’n goeie oes volgens u volmaakte tydsberekening kan verwag.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
