Wie opreg leef, leef sonder vrees; wie krom paaie loop, word uitgevind – Spreuke 10:9.
Die nutsman wat reeds jare lank verfwerk vir ons doen, vertel hoe hy as klein seuntjie saam met sy oupa gegaan het wanneer dié ’n huis moes opknap en uitverf. Hy het verfblikke help aandra, kwaste gewas, verfspatsels skoongemaak.
Tussendeur het hy gekyk en geluister. En geleer. Nie slegs die fynere kunsies van nutsmanwees nie, maar ook oor integriteit en eerlikheid en mense in die oë kyk.
As volwassene het hy vir ’n kontrakteur begin werk. Terwyl hy eenkeer met ’n projek besig was, het die verf opgeraak net voordat die laaste muur klaar geverf is. Die kontrakteur het hom aangesê om water by die laaste bietjie verf te gooi. Ons verwer het sy kwaste terstond neergesit en uitgestap.
Die huiseienaar het die hele gesprek uit die kamer langsaan gehoor, die kontrakteur die trekpas gegee, die jong man in sy plek aangestel en vriende en kollegas van hom vertel. Die werk het begin instroom.
Op ’n gedenkblaadjie van ’n eenvoudige maar geëerde man lees ek: Hy het ’n renons aan huigelary en voorgee gehad. Hy het opregtheid in mense raakgesien en vriende gekies wat eerlik en onopgesmuk was. Onder hulle was soms mense wat nie deur die gemeenskap geag is nie en dikwels as onsuksesvol beskou is. Hy het egter daarin geslaag om die mooiste in hulle na vore te bring.
Hierdie man se lewensleuse was: “Wanneer ek eerlik en opreg is, kan ek regop staan.”
Here, ek wil regop kan staan – in watter geselskap ek my ook al mag bevind. Amen.