Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.
– 1 Petrus 4:8
Party mense is baie gesteld op duur ontwerpersonderklere van goeie gehalte. Natuurlik moet dit ook by mekaar pas. Ander gee weer minder aandag aan hulle onderklere omdat vreemdeling én bekendes hierdie privaat kledingstukke nie sien nie.
’n Paar vroue het al ten koste van hulleself laggend vertel hoe hulle uitgevang is met verslete onderklere toe hulle onverwags in die hospitaal of ’n dokter se spreekkamer beland het. Daar was verskillende variasies op dié onderklere-staaltjies. Die een vrou se onderklere was oud en uitgerek en vaal geblyk deur tyd. ’n Ander het vertel dat hare nie by mekaar gepas het nie en uit ’n vorige eeu gedateer het. Nog een het bely dat daar gate in haar mondering was.
Maar almal was dit eens dat hulle boklere baie mooi en goed versorg was – en dat hierdie meer stylvolle buitenste klere, saam met hulle humorsin, vergoed het vir die minder perfekte onderklere.
Ons innerlike mens is nie altyd in die beste toestand nie. Soms is ons so ’n bietjie verslete as kinders van die lig, so effens uitgerek en vol gate. Ons almal tree soms dwaas teenoor ander op, maak mekaar seer en gebruik harde woorde sonder dat ons dit so bedoel.
As jy wil vergoed vir ondeurdagte sondes teenoor ander, maak die vers hierbo ’n lieflike kledingstuk wat jou uit die verleentheid kan red: Bo alles moet julle mekaar liefhê, want die liefde bedek baie sondes.
Maak gebruik van hierdie bokleed om jou minder ideale onderkleed (jou innerlike mens) te hulp te kom. Min mense bly lank kwaad wanneer jy hulle toegooi met opregte liefde uit jou opregte hart.
Bruisgebed vir onperfekte onderklere: Here, ek weet ek behandel ander mense gereeld verkeerd. Help my om my sondige innerlike mens altyd met liefde aan te trek omdat dit soveel sondes bedek.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
