Moenie vriende maak met ’n humeurige mens nie. Bly ver weg van een wat ongeduldig is. Jy moenie dalk sy maniere by hom aanleer nie. Dit sal die oorsaak word van jou eie ondergang – Spreuke 22:24-25 (Nuwe Lewende Vertaling).
My ma het dikwels die uitdrukking gebruik: “Raak nie, smaak nie, roer nie aan nie.” Sommige mense is van nature onvergenoeg en iesegrimmig. Deur hul optrede tart hulle die mees geduldige totdat dié ook later krapperig raak.
Dié waarheid het ek as dogtertjie reeds besef toe ons gesin elke somervakansie die lang pad tussen die Kaap en die Vrystaat deur die Moordenaarskaroo met ons Volkswagen-kewer aangedurf het.
In die klein binneruimte van ons Volksie moes ons onsself leer vermaak. En self die onderlinge verhoudings en vrede in stand hou. Ek het geleer dat ’n raak-nie-smaak-nie-roer-nie-aan-nie-houding vinnig na die medepassasiers oorspoel.
In ons reis deur die lewe kan ons nie altyd ons medereisigers kies nie. Nogtans moet ons – sover moontlik – ons met mense omring vir wie die lewe nie bloot om hulleself draai nie.
Onvergenoegdheid, iesegrimmigheid en prikkelbaarheid begin by die eie ek. Mý behoeftes. Mý gemak. Mý ideale.
Die oplossing kry ons in Matteus 11:28: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Hy leer ons dat geluk nie is om heeltyd vir onsself te leef nie. Ons kan nog vir ander mense ook tyd en liefde oorhê.
In sy bekende dagboek My utmost for His Highest sê Oswald Chambers tereg: “Ek is nie die punt nie. God is. Ek bestaan vir Hom.”
Here, ek wil altyd onthou dat U die beginpunt en eindpunt van my bestaan is. Amen.