Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos moet klaarkom, van koue en sonder klere wees.
– 2 Korintiërs 11:27
Net soos Maria sekerlik baie opofferings as die ma van die Messias moes maak, moes Paulus ook jare later as sy volgeling en die verkondiger van Jesus se evangelie baie opofferings maak.
Paulus het baie ontberings beleef. Dink net aan die lang afstande wat hy te voet moes aflê. Hy was sekerlik dikwels uitgeput van die min slaap en die ver loop. Hy was gereeld honger en dors en het koud gekry sonder ’n kombers of ’n dak oor sy kop.
Tog het Paulus dit met liefde gedoen – die opofferings was vir hom die moeite werd. Want toe Paulus ’n persoonlike ontmoeting met Jesus gehad het, het sy oë oopgegaan. Hy het daar en dan opgehou om die Christene te vervolg en ’n vurige evangelis geword.
Wanneer die Heilige Gees jou aanraak en oor jou lewe begin heers, verander jou ingesteldheid radikaal. Jy verander van selfsugtig en selfgerig na onselfsugtig en Godgerig.
Geesvervulde mense is bereid om opofferings te maak en ’n goeie gesindheid te handhaaf as deel van hulle dienslewering aan die Here. Ek praat myself gereeld aan wanneer ek knieserig is en jammer voel vir myself oor die paar opofferings wat ek as rondreisende spreker moet maak.
Dit gaan nie oor my gemak nie. Dit gaan oor Hom en wat Hy vir my gedoen het. Hy het die heel grootste opoffering van alle tye gebring. Hy het sy lewe opgeoffer sodat ek kan leef en in sy hoop kan deel. Dit snoer my mond met klagtes vinnig.
Bruisgebed vir ’n onselfsugtige lewe: Here Jesus, U het u lewe vir my opgeoffer. Ek kies om met ’n goeie gesindheid opofferings vir U te maak as deel van my diens aan U en ander mense.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.