Boodskap vir Vandag

Search

Oranje

Die oorvloedige goedheid van ons Here Jesus Christus is by julle, nou en vir altyd.

– 1 Tessalonisense 5:28

 

Oranje laat my aan lemoene en Oros dink, aan sosiale uitbundigheid en warmte, aan mense wat uitreik na ander. By ’n funksie van Helpende Hand het ek opgelet dat hulle personeel almal oranje klere dra. Van toe af assosieer ek die positiewe kant van oranje altyd met gee.

 

Maar natuurlik is daar ook ’n skadukant aan oranje. Die uniforms van gevangenes, mense wat ander van goeie dinge ontneem en beroof het, is ook oranje. Die negatiewe assosiasie hier is ’n geslote en harde hart – mense wat net vir hulleself neem.

 

Watter oranje dink jy is in jou hart? Is dit gekleur met goddelike oranje eienskappe soos goedhartigheid, mededeelsaamheid en hartlikheid? Is jy iemand wat gereeld uitreik na ander in nood?

 

Of is jy iemand wat eerder neem en net aan jou eie behoeftes dink? Is jy geneig om inhaligheid en suinig te wees en net jouself te verryk? Dan het jou hart dalk ’n skadukant van oranje wat jou die vreugde van gee laat misloop.

 

Vandag se vers wys vir ons op God se mededeelsame Vaderhart: Die oorvloedige goedheid van ons Here Jesus Christus is by julle, nou en vir altyd. Die Vader verwag van sy kinders om met dieselfde rojale gee-ingesteldheid te leef. Hy laat die son oor almal skyn en die reën op almal val. Net so moet ons ander alles gun wat onsself gun.

 

Alles wat jy in jou vuis vashou, kom uit God se vrygewige en oop hand en hart. Maak daarom jou vuiste en jou hart oop en leer die kuns van gee by Hom. Dit sal jou hart onmiddellike verhelder tot lig(oranje). En onthou, daar is seën in gee, veral vir die een wat gee.

 

Bruisgebed vir goedhartigheid: Vader, ek bring my suinige en selfsugtige hart vandag na U toe. Ek wil die kuns van gee en vrygewigheid aanleer. Laat u oranje lig van mededeelsaamheid uit my hart straal.

 

Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.

No data was found

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed