Vir ’n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad.
– Spreuke 12:15
Ek moet gereeld vreemde paaie na vreemde plekke aandurf. Dit is my gewoonte om altyd die presiese aanwysings asook ’n kontaknommer in my dagboek te skryf. Ek tik dan die adres in my GPS in. Dit is egter nie ’n waarborg dat ek by die regte plek sal uitkom nie. Wanneer ek wel verdwaal, trek ek van die pad af en bel die persoon om vir my die
pad te verduidelik.
Ek was ook al in motors saam met bestuurders wat, soos steeks donkies, geweier het om hulp en aanwysings te vra toe hulle verdwaal het. Hulle het verkies om in sirkels voort te ploeter, eerder as om te erken dat hulle op die verkeerde pad is. Die gevolg was altyd konflik in die motor. Ons almal was natuurlik ook laat en het heel ontsenu by die funksie of byeenkoms opgedaag.
Ek wonder altyd hoekom party mense so onontvanklik vir ander se insette in hulle lewe is. Ek ervaar wyse raad en leiding as ’n bron van hulp, nie as iets om oor kwaad te raak nie. As skrywer het ek geleer dat keuringsverslae met kritiek ’n waardevolle geskenk is. Sonder
hierdie insette sou ek as skrywer nie kon groei nie.
Hoe voel jy oor teregwysings op jou pad deur die lewe? Is jy oop vir raad en opbouende kritiek? Is jy teachable – of dink jy koppig jóú pad en jóú manier van dink en doen is die enigste regte pad en manier?
Die Vader wil ons graag onderrig en reghelp om te groei in wysheid op ons pad deur die lewe. Is jy oop om op jou lewenspad gelei en gestuur te word? Of ploeter jy soos ’n dwaas in sirkels voort?
Bruisgebed vir die regte pad: Here, ek stel my hart oop om na U en u leiding te luister, en na die wysheid van mense wat my wil help. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
