Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ’n voorbeeld vir die kudde te wees – 1 Petrus 5:2-3.
Die hoof van ’n klein firma raak bewus van ’n getroude werknemer wat ’n verhouding met ’n jong medewerker probeer aanknoop. Die res van die personeel is ook daarvan bewus, maar kyk anderpad.
Die hoof roep die man in en waarsku hom. Die jong vrou word na ’n ander afdeling verplaas. Die werknemer is woedend en voel verneder. Hy dreig met regstappe. Die uiteinde is egter dat sy huwelik gered word. Die jong vrou kan nuut begin. Sy is van baie hartseer gespaar, al voel dit nie dadelik vir haar so nie.
Ons mag nie anderpad kyk en sonde ignoreer nie. Dan word ons medeaandadig aan ’n misstap wat dalk baie lewens vernietig. Ons moet praat oor onreg en vergrype by skole, werkplekke en in gemeenskappe. Saam met die opdrag kom ook voorwaardes. Ons mag nie daardeur wys ons is bokant sulke optrede verhef nie. Dit moet ’n natuurlike uitvloeisel wees wat uit gehoorsaamheid en opregte harte spruit. Ons mag ander ook nie op ’n meerderwaardige, baasspelerige manier teregwys nie. Ons oorweging moet altyd liefde wees.
Ons opdrag kom van Christus. Daarom moet ons dit doen soos Hy dit sou gedoen het: in afhanklike nederigheid voor God, met ’n besef van hoe broos ons is.
Here, suiwer my hart en my woorde wanneer ek u kudde help oppas. Amen.