As ons saam met Hom sterf, sal ons ook saam met Hom lewe.
– 2 Timoteus 2:11
Pienk is vir my die simbool van sensitiwiteit, waarneming en emosionele volwassenheid. Hierdie pienk het egter ook twee kante – ʼn snykant en ’n goddelike kant.
Die meeste jongmense het ’n selfsugtige skadupienk hart – dis normaal en deel van die grootwordproses. Jongmense is oor die algemeen kortsigtig, selfgerig, emosioneel onvolwasse en net op die eie ek ingestel.
Wanneer ons geestelik begin groei, verander die kleur van ons harte gelukkig namate ons groei in kennis van die Here. Die selfsugtige pienk begin meer skakerings van sy onselfsugtige ligpienk aanneem. Ons raak al meer sensitief vir die Here se stem en vir die behoeftes van die mense rondom ons. Ons besef alles draai toe nié om ons nie.
Hoe lyk die pienk kleur van jou hart? Is dit al ligpienk, of sukkel jy steeds met ’n knieserige, selfbehepte, emosioneel onvolwasse skadupienk hart? Hier is ’n paar maniere om jou hart se skakering van pienk te toets en te verander.
Is jy geneig om alles persoonlik op te neem? Dink jy gedurig mense het iets teen jou? Wip jy jou vinnig? Is jy oorsensitief vir kritiek? Sukkel jy om objektief na jouself en ander te kyk? Is jy gedurig ontsteld oor iets – soms beuselagtighede? Dit is moeilik om met so ʼn hart die Here se stem te hoor.
Vandag se vers nooi jou om die skadupienk (ekkerige) hart af te sterf en op te staan met ’n ligpienk hart wat van geestelike en emosionele volwassenheid in Hom getuig. As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe.
Bruisgebed vir emosionele volwassenheid: Vader, ek erken die selfsug en ekkerigheid in my hart. Help my om te groei in emosionele volwassenheid en al hoe meer onselfsugtig te raak. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
