“Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het.”
– Matteus 6:11
Toe Frankie klein was, was hy altyd baie bekommerd oor sy porsie op sy bord – by die huis of by ’n restaurant. Hy wou altyd weet: “Is daar nog?” Wanneer hy sy kos opgeëet het, was daar egter nooit nog plek in sy maag vir daardie ekstra porsie waaroor hy so bekommerd was nie.
Is jy ook bekommerd oor die enkele porsie op jou bord? Dink jy reeds aan môre se porsie? Ek het opgemerk dat mense wat uit ʼn arm agtergrond kom meer geneig is om hierdie bekommernis te hê. Hulle sal dikwels ’n hele hand vol pepermente of pakkies suiker by
die toonbank neem, of ’n rol toiletpapier in ’n openbare kleedkamer in hulle sak pak. Dis hulle porsies vir later.
As student het ek hierdie selfde bekommernis oor môre se porsie gehad en gevolglik oral freebees ingepak en huis toe geneem vir môre se onsekerheid. In my groeiende verhouding met die Here het ek egter geleer dat vandag se porsie al is wat ek vir vandag nodig het.
Toe Moses die volk deur die woestyn na die Beloofde Land gelei het, het God belowe om elke dag vir hulle vars manna te voorsien. Tog wou sy volk Hom nie vertrou met net vandag se porsie nie. Hulle het ekstra manna vir môre se voorsiening opgetel. Hierdie manna het
egter gevrot en was oneetbaar.
Kom ons bid dan soos Jesus ons geleer het: Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het.
Vra vir dit wat jy vandag nodig het. Môre is ’n nuwe dag waaroor jy nie nou al hoef te stres nie.
Bruisgebed vir voorsiening: Dankie, Here, dat U vir my die porsie sal gee wat ek vir vandag nodig het. Ek vertrou met my hele hart op U daarvoor.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
