In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees.
– 2 Korintiërs 9:11
Wie hou nie van presente nie? Dis veral lekker om presente te kry as dit uit ’n hart vol liefde vir ons gegee word.
Ek is bevoorreg om as spreker gereeld by damesfunksies met die mooiste geskenke bederf te word. Hierdie geskenke herinner my dan altyd aan daardie spesifieke geleenthede. Ek het al roosplante ontvang, lieflike bosse blomme, tuisgebak, ingelegte vrugte en groente, biltong, sjokolade, droëvrugte, resepteboeke, kruise, handgemaakte huisware en versierings, badgoed, ’n teddiebeer – te veel om te noem. Alles blyke van waardering wat my altyd baie spesiaal en geliefd laat voel en wat ek opreg waardeer.
Dit is egter vir my net so lekker om presente te kan gee. Ons hoef nie ryk te wees aan geld of goed om te kan gee nie. As kinders van God het ons spesiale voorregte – ons almal is ryk genoeg om by enige geleentheid iets van waarde aan ander te gee.
Dink net wat jy as rykmanskind van die Here alles kan gee. Ek skilder soms iets vir iemand of skryf ’n mooi en persoonlike stukkie. Ander kere nooi ek mense om by my tafel te kom aansit. Party presente kos nie ’n sent nie. Jy kan dit sommer so ontoegedraai gee.
Van die geskenke wat die diepste indruk op my gemaak het, was gratis presente uit ’n opregte hart: die handgemaakte kaartjies van klein Ena, die paar vertrouelinge wat sonder vooroordeel na my kon luister tydens my woestynseisoene, en die onvoorwaardelike
omgeeliefde van hegte vriendinne.
Bruisgebed vir geskenke: Dankie, Here, dat ek as u kind ryk genoeg is om by elke geleentheid iets van waarde uit my hart aan ander mense te kan gee. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
