Moenie lelike goed van mekaar sê nie, broers en susters . . . As julle die wet kritiseer, is julle nie daders van die wet nie, maar regters. Net God – Hý wat die wet gemaak het – kan as Regter oor ons optree.
– Jakobus 4:11-12
Het jy sterk persoonlik oortuigings oor wat reg en verkeerd is? Wat doen jy met hierdie oortuigings? Dink jy in stilte daaroor na en gesels jy met die Here daaroor? Of verkondig jy dit luidkeels aan die wêreld en veroordeel dié wat volgens jou maatstaf verkeerd optree?
Ek dink ons almal het menings oor mekaar – en al ons menings is nie noodwendig mooi nie. (Ek weet ek het ’n hele paar menings wat ek gerus kan laat staan.)
Wat jy as gelowige met hierdie menings maak, is egter die belangrikste. Baie van ons verval in die gewoonte om lelike en afbrekende woorde kwyt te raak oor mense wat volgens ons nie reg optree nie. Die volgende stap is gewoonlik om onsself as hulle regter aan te stel.
Vandag se Bybelvers vermaan ons om reg te doen, maar om nooit regter oor die Here se wette te speel asof ons dit saamgestel het nie: Julle taak is om te doen wat die wet voorskryf, nie om daaroor te oordeel nie. Net God – Hy wat die wet gemaak het – kan as Regter oor ons optree.
Namate ek in geestelike volwassenheid groei, probeer ek alle versoekings om regter te speel, vermy. Ek gaan vent my onstuimige menings by ’n vertroueling en gee dan dié mense wat volgens my verkeerd teenoor my opgetree het aan die Here en sy goeie oordeel oor.
Bruisgebed vir regters: Here, ek erken dat ek dikwels oor mense oordeel en hulle selfs veroordeel. Ek kies vandag om nie meer regter te speel nie en dit aan U oor te laat om as Regter op te tree. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.