“Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al
julle onreinheid en van al julle afgodery.”
– Esegiël 36:25
Hoe voel jy oor wasgoed was? As student het ek altyd vreeslik opgesien na hierdie taak en my vuil wasgoed lank in die wasbalie laat lê – totdat ek later niks skoon klere meer gehad het om aan te trek nie.
Deesdae hou ek al meer van wasgoed was en doen dit sommer baie gereeld. Ek geniet dit om te sien hoe selfs die hardnekkigste vlekke verdwyn wanneer ek dit in ’n goeie reinigingsmiddel week en dan was. Ek voeg ook graag versagmiddel by die spoelwater om die wasgoed sag en geurig te kry. Wanneer ek my skoon klere aantrek, voel ek self sommer nuut en vars.
As gelowiges het ons ook gereeld ’n geestelik was-sessie nodig om innerlik skoon te kom. Is jy bereid om gereeld met jou bondel vuil wasgoed by die Here in te gee sodat Hy jou met sy reinigingswater kan skoonwas? Of stoor jy eerder jou sondes in ’n balie en laat dit ophoop?
Om geestelike verander te word en van sondige gewoontes ontslae te raak, is nie maklik nie. Dit is ook nie ’n eenmalige gebeurtenis waarvan ons selfvoldaan kan wegstap nie. Soos enige kind wat buite speel, raak die Here se kinders elke dag vuil. My gedagtewêreld, het ek
gevind, moet gereeld in Jik geweek en met sy reinigingswater afgewas word om skoon te bly. Dit is nooit net een keer se was en alles is afgehandel nie, net soos my wasgoed.
Maak dit daarom ’n instelling om elke dag op te daag vir ’n geestelike skoon skropsessie. Laat toe dat die Here jou met sy reinigingswater was – dis so ’n wonderlike bruistablet!
Bruisgebed vir vuil wasgoed: Here, ek besef ek doen elke dag sonde. Daarom meld ek nou weer by U aan vir ’n geestelike skoonskropsessie. Reinig my met u water, tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
