Geliefde vriend, moet tog nie dié slegte voorbeeld navolg nie. Volg liewer die goeie. Dié wat
goed doen, is van God afkomstig; dié wat sleg doen, het God tot nou toe nie gesien nie.
– 3 Johannes vers 11
Die meeste van ons is op soek na resepte om ons lewe op ’n manier op te kikker. Ons koop resepteboeke om ons kookvernuf op te skerp, resepte om gewig te verloor, resepte vir ’n goeie huwelik, resepte vir beter ouerskap, resepte om jonk te bly – noem maar op.
Ons snuffel ook graag deur tydskrifte op soek na bekendes se wenke vir kitsgeluk – of ons bestudeer al die selfhelpboeke met die hoop om daarin ’n resep te ontdek wat ons lewe oornag sal kan reg toor.
Het jy al uitgekom by daai wenresep vir geluk en sukses? Of is jy steeds op soek daarna? Die resepteboek wat die Here vir jou aanbeveel vir ’n gelukkige en suksesvolle lewe is baie oud en beproef deur die tyd. Jy hoef nie verder te soek as sy resepteboek nie.
Die Bybel is ’n flopvrye resepteboek. Die ou wyshede en aanwysings daarin vir ’n gelukkige en vredevolle lewe is derduisende jare later steeds waar. Beproef dit gerus.
In sy Boek stel die Here voor jy kies die bestanddele wat jy in jou lewe inmeng met groot omsigtigheid – en dit sluit jou vriende in. As jy vriende wat ’n swak voorbeeld stel gedurig navolg, sal hulle afbrekende invloed by jou lewe insyfer.
Volg eerder die Here se resep vir ’n goeie lewe: Geliefde vriend, moet tog nie dié slegte voorbeeld navolg nie. Volg liewer die goeie. Dié wat goed doen, is van God afkomstig; dié wat sleg doen, het God tot nou toe nie gesien nie.
Bruisgebed vir ’n goeie lewensresep: Vader, baie dankie vir u resepteboek, die Bybel. Ek erken dat die ou waarhede van die Bybel steeds die heel beste resep vir ’n gelukkige en vredevolle lewe is. Help my om dit na te volg.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.