“My seun […] spits jou ore vir my woorde. Laat hulle nie aan jou oë ontglip nie; bewaar hulle diep in jou hart. Want dit is die lewe vir hulle wat dit vind; vir die hele liggaam bring dit genesing” – Spreuke 4:20-22 (2020-vertaling).
Anne Michaels se boek Fugitive pieces vertel die verhaal van ’n seuntjie, Jacob, wat ná die Tweede Wêreldoorlog as weeskind in die huis van ’n wyse man grootword. Van dié mentor in sy lewe sê Jacob later as volwassene: “Hy het rytjies woorde in my binneste geplant.”
Vir hierdie verdwaasde, gekneusde oorlogskind het die woorde van sy versorger weer lewensin gegee. Dit het hom – die kind wat stemloos gelaat is ná soveel geweld wat hy moes aanskou – woorde gegee. Hy kon weer met hoop begin lewe. Die woorde van sy versorger het genesing gebring.
Die rytjies woorde wat Christus deur sy Woord in ons hart plant, bring genesing en lewe vir elkeen wat dit hoor en aangryp.
Net soos The book thief se hoofkarakter tussen die as soek totdat sy boeke vind wat nie deur die vlamme vernietig is nie, so buk Christus by die oorblyfsels van vernietigde lewens. Hy restoureer ons binne- en buitekant. Hy herstel ons menswaardigheid.
Maar dit is meer as dít. “Woord” is ’n persoonsnaam. Johannes 1:14 stel dit só: “Die Woord het mens geword en tussen ons kom woon.” Jesus word ons boek, ons Lewende Woord. Hy is enkelvoudig. Net “Woord”. Dit is genoeg. Volkome.
Here Jesus, dankie dat U die lewende Woord is wat tussen ons kom woon het en rytjies woorde in ons binneste kom plant. Amen.