Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het.
– Filippense 3:12 (lees van v 9 af)
Hoe lyk jou selfbeeld? Sou jy sê dis gesond – of ongesond? Waarvolgens bepaal jy jou waarde? Hoe het jy by hierdie spesifieke beeld van jouself uitgekom? Dink jy dis ook hoe die Here jou sien?
Die meeste mense se karakter, persoonlikheid en selfbeeld word in hulle kinderjare gevorm. Die emosies wat jy as kind ervaar, maak ’n diep en blywende indruk op jou en bepaal dikwels hoe jy jouself later as ’n volwassene sien en teenoor ander mense evalueer.
Volwassenes met ’n swak selfbeeld dra gewoonlik swaar aan gebeure in hulle verlede wat hulle oortuig het dat hulle minderwaardig is. Dikwels is emosies soos die gevoel dat hulle verwerp is of skuldgevoelens oor iets of die oortuiging dat hulle nooit goed genoeg sal wees nie, steeds deel van hulle persepsie van hulleself.
Dink jy dalk min van jouself? Kon jy al vasstel wat presies in jou verlede gebeur het wat jou so gevange hou en jou weerhou van ʼn beter siening van jouself?
Vandag se Bybelvers nooi elke gelowige met ’n swak selfbeeld om die ou beeld van hulleself agter hulle te sit en ’n nuwe beeld van oorwinning in die Here te ontwikkel. Al sal ons nooit volmaak wees nie, kan elkeen wat die pad van heelmaking volg ’n nuwe selfbeeld in Christus ontvang. Hierdie nuwe jy waarheen jy op pad is, stel jou in staat om jou skouers reguit te trek, met die seker wete dat jy die Here se geliefde Koningskind is.
Bruisgebed vir ’n goeie selfbeeld: Vader, dankie dat ek my swak selfbeeld en minderwaardige gevoel kan omruil by U – vir ʼn splinternuwe en positiewe selfbeeld as ’n Koningskind.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.