Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.
– Psalm 4:9
Ons almal het genoeg slaap nodig om goed te kan funksioneer. Slaap is ’n bruistablet vir die liggaam, gees en emosies. Tog ontwyk die slaap so baie van ons.
Toe ek alleen in my huis begin woon het, was ek angstig dat iemand sou inbreek. Ek het weerloos gevoel en elke nag probeer waghou. En elke oggend het ek uitgeput wakker geword. Ek het hierdie vrees in gebed omgesit en bewus geraak van die Here as my beskermer. Met die wete dat Hy oor my waak, het ek, soos van ouds, onbesorgd aan
die slaap geraak.
Daar is ook ander redes vir slaaploosheid. Soms kry ’n mens nie die radio in jou kop afgeskakel nie en die gesprekke met jouself hou jou wakker. Wanneer ek tot ounag toe aan ’n roman skryf, vind ek dat dit my slaapritme versteur. Ek kan glad nie afsluit van die karakters nie. Maak nie saak hoeveel skape ek probeer tel nie, die slaap (en die laaste skaap) ontwyk my. Die volgende dag is ek dan te uitgeput om verder te skryf.
Ek het wysheid hieroor by die Here gesoek – oor hoe ek ’n gesonde slaaproetine te midde van die skryfdruk kon handhaaf. Ek het die raad ontvang om my karakters vroeër te groet en my rekenaar teen sesuur saans af te skakel. Die res van die aand moes ek gebruik om die drade in my kop te ontkoppel en rustig te raak.
Deesdae raak ek vinnig en onbesorgd aan die slaap. Bedags is ek vars en uitgerus en ek skryf lustig voort. Maar wanneer die son begin sak, skakel ek my rekenaar af.
Bruisgebed vir ’n goeie nagrus: Vader, help my om al my sorge aan U oor te gee sodat ek rustig en onbesorg aan die slaap kan raak.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
