Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien – Psalm 86:11.
’n Jong man sit koponderstebo in die kantoor van sy werkgewer. Hy was oneerlik en is uitgevang. Die ouer man luister aandagtig na die jongeling se verskonings vir sy misstap. Hy hoor die beloftes: “Nooit weer nie, Meneer!” en: “Ek belowe.”
Die ouer man antwoord hom deur ’n enkele vraag: “Sou jy spyt gewees het indien niemand jou uitgevang het nie?”
Die vraag het die jong werknemer laat nadink. Hy het besef dat hy waarskynlik weer oneerlik sou gewees het. En weer. Hy sou waagmoediger geraak het. En, het hy besef, uiteindelik sy eie ondergang bewerk het.
Wat weerhou ons daarvan om sonde te doen? Is dit die vrees dat iemand dit sal uitvind en minder van ons sal dink? Is dit die vrees vir straf?
Daar is ’n verskil tussen die vermyding van kwaad en die afsku daarvan.
Timothy Keller sê in sy boek The way of wisdom dat alle sonde by die eie ek begin. Selfsugtige begeertes por jou aan. Ék wil die gesogte pos hê. Daarom mag ek my getuigskrif ’n bietjie aanvul. Ék het geld nodig vir ’n spesiale rok. Daarom mag ek bedraggies uit die kasregister neem. Ék wil raakgesien word. Ék wil die beste wees.
Wat moet my eintlike dryfveer agter elke optrede wees?
Ek moet glo dat God my liefhet en my beste belange op die hart dra. Hy sal sorg – op sý tyd en op sý manier. En dit sal beter wees as wat ek dit ooit kon bedink.
Here, ek wy myself aan U toe. Ek vertrou volkome op U. Amen.