“Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word” – Lukas 6:38.
’n Uitgebreide studie deur Anders Ericsson by die Berlynse Akademie vir Musiek toon dat alleen-oefentyd van minstens 10 000 uur nodig is om ’n professionele vioolspeler te kan word. Studie ná studie bewys dat dit vir enige ander beroep of vaardigheid geld: komponiste, skrywers, akademici, sportlui, skaakspelers, kunstenaars.
Die meeste mense gebruik hul gawes om ander mee te dien en op dié manier die vreugde en seën wat hulle daardeur ontvang te vermenigvuldig.
Vir musici is ’n groot uitvoering die hoogtepunt van maande se harde werk. Dit is meestal ’n alleenpad wat baie dissipline verg. Om die gawe dan as’t ware wyd oop te gooi sodat ander hulle daarin kan verlustig, word ’n ekstatiese klimaks wat al die opoffering die moeite werd maak.
Wanneer ’n kundige egter in hom- of haarself keer en daardie besondere gawe net vir eie selfverwesenliking beoefen, verloor dit sy glans. Dan raak die kenner selfgerig, hovaardig en soms venynig teenoor ander wat moontlik in sy of haar lig staan.
In Mitch Albom se boek Tuesdays with Morrie sê die sterwende Morrie: “Om te gee laat my voel ek lewe.”
Die groot vreugde lê daarin om dít wat ons het aan te gee. Om waarlik na die son te kan lewe, moet ons ons kinders leer om gulhartig te wees. Ons moenie afmeet nie, maar ander die goeie gun.
Here, ek wil alles uitdeel wat ek van U ontvang sodat die milde seën waarmee U my oorlaai ander kan versadig. Amen.