In die plek van ’n doringbos sal daar ’n sipres opskiet, in die plek van ’n dissel sal daar ’n mirteboom opskiet. Dit sal tot eer van die Here wees, ’n blywende teken wat nooit vernietig sal word nie.
– Jesaja 55:13
Het jy al gevoel jou lewe is ’n totale mislukking? Dis net kakiebosse en dorings waar jy kyk, en geen vrolike en kleurvolle sonneblomme om jou op te beur nie? Join the club. Ek het ook só gevoel ná my egskeiding in 2012. Ek het gevoel ek het al my geloofwaardigheid by mense verloor.
Dit was ’n moeilike tyd met baie brandnetels en min bruistablette. Die tonge was los – lelike stories het my ore bereik. Ek het in die versoeking beland om onderhoude toe te staan, maar die klein stemmetjie van wysheid het my gewaarsku om eerder net my kop op te lig en stil te bly.
Vandag is ek baie dankbaar dat ek kop gehou het toe daar soveel dorings op my pad was en my kop doelbewus soos ’n sonneblom na sy son bly draai het. Ek het na die Here geluister en die smal grondpad gekies. Ek het my gedagtes gevange geneem en my fokus doelbewus
verskuif na dit wat ek op daardie oomblik moes doen. Ek moes voor gehore gaan staan en op hulle fokus, eerder as op my bene wat gedreig het om onder my in te gee.
Draai jou kop in moeilike tye na die Son, en die skaduwees sal agter jou val. In die plek van die dorings sal daar sipresse groei, en in die plek van die dissels sal daar mirtebome opskiet. En uiteindelik ook plate vol goudgeel sonneblomme.
Bruisgebed vir doringtye: Here, help my om in moeilike tye my kop soos ’n sonneblom na u son toe te draai.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
