Ek is vergete, uit die gedagtes soos ʼn dooie; ek is soos ʼn gebreekte kleipot (Psalm 31:13).
Niemand kan lyding vryspring nie.
Dit is dikwels net die aard en graad van ons lyding wat van mens tot mens verskil.
Hoe duidelik sien ons dit in Psalm 31. Die digter – waarskynlik Dawid – het dit regtig swaar gehad. Hoor net hoe kla hy: Hy kwyn liggaamlik weg; sy ledemate is opgeswel en sy oë dik gehuil (v 10). Hý, wat voorheen die liefling van sy volk was, nou moet saamleef met die wete dat hy vergete geraak het, selfs ʼn voorwerp van bespotting (v 12-13).
Geen wonder hy het soms soos ʼn dooie mens gevoel nie, soos ʼn gebreekte kleipot sonder enige nut (v 13). Alles treffende beelde, ja, maar beelde wat die bitter werklikheid van die lewe op ʼn ontstellende manier by ons tuisbring.
Miskien weet jy presies waarvan Dawid hier praat. Miskien lê sý soort verdriet nog vir jou voor. Wie sal weet, behalwe dat die ouderdom dit onherroeplik oor jou sal bring.
Die vraag is: Wat maak jy wanneer lyding kom? Wanneer siekte jou liggaam aftakel? Wanneer jy nie meer kan hoor of sien nie? Wanneer mense jou nie meer groet nie? Wanneer angs en kommer jou in die nag laat wakker lê?
Ook dié vraag sal jy, veral in die nagloed van Pase, nie kan ontduik nie.
Here, hoor tog my bede wanneer ek vandag uit my ellende na U roep. Amen.
Carel Anthonissen