Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is, maar dit ontken wat aan die Christelike godsdiens sy krag gee. Jy moet wegbly van sulke mense af.
– 2 Timoteus 3:5
Die meeste kos word met ’n sousie bedien. Dink maar aan die verskillende slaaisouse op die winkelrakke waaruit jy deesdae kan kies en keur. Dink aan daardie lekker vla by die malvapoeding, die tamatiesous by jou spek en eiers, die pepersous by jou steak. Die sous kan die kos se geur óf aanvul óf die oorspronklike geur heeltemal uitdoof.
Ek dink die meeste van ons bedien ons Christelike geloof ook met ’n sousie of ’n geurmiddel. Dit is nie verkeerd nie, solank die sous aan die buitekant die binnekant ondersteun en aanvul.
Met watter sousie sit jy jou Christenskap voor? Is dit ’n goddelike sous wat getuig van jou diep verbintenis met die Here? Of is dit ʼn kunsmatig versoete sous wat die hoofmaaltyd doodgooi?
Vandag se Bybelvers waarsku ons om weg te bly van skynheilige mense wat godsdienstige sousies oor hulleself drup, maar wie se innerlike mens nie getuig van Christus se kragtige werking in hulle nie.
Dit is slegs Christus se diepwerkende krag in ons wat aan ons geloof sy voedsame smaak gee. Die hoofmaal – Christus se omgeeliefde vir ons – mag nooit met ’n oppervlakkige en kunsmatige godsdienssousie nageboots word nie.
Smaaklose geloofsousies kan groot skade aan die koninkryk van God aanrig en mense van die hoofmaaltyd af wegdryf. Maak daarom seker die sous waarmee jy die Here aan ander voorsit, is altyd eg en getuig van sy goddelike krag in jou.
Bruisgebed vir ’n goeie sous: Here Jesus, help my om U en u omgeeliefde altyd met egtheid aan ander mense te bedien sodat dit hulle nader aan U sal trek. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.