Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors – Jesaja 9:5.
Tydens ’n besoek aan die afgesonderde St Helena-eiland word ek getref deur die stilte en vrede wat byna tasbaar op dié klein eiland teenwoordig is.
Wanneer ek egter die eilandmuseum besoek, kom ek onder die indruk van die ryk – maar ook gewelddadige – geskiedenis van dié vulkaniese eiland wat reeds in 1502 deur die Portugese ontdek is. Onder ’n groot boom op die stadsplein is slawe verhandel. Teen ’n graswal lê die rye grafte van 180 van die 6 000 krygsgevangenes uit die Anglo-Boereoorlog wat tydens hul aanhouding op St Helena gesterf het. Napoleon het sy laaste dae as krygsgevangene ook hier deurgebring.
Ek wonder onwillekeurig: Wat het al die geweld en bloedvergieting gebaat?
Van waar ek bo-op ’n hoë bergspits staan, kan ek ver sien. Op al die hoogste uitkykpunte is forte en batterye met groot kanonne wat die eilandbewoners destyds teen see-aanvalle moes beskerm. Vandag staan die forte onbeman en die kanonne is verroes. Net die stilte het oorgebly.
Al lyk dit vir ons of vorste en veroweraars se mag onbeperk en onvernietigbaar is, weet ek – sekerder as ooit: Kanonne sal ophou bulder, oorloë sal ophou en vorste se mag tot ’n einde kom.
Ons is nietige skakels in die geskiedenisketting. Tog het Christus ons geroep om vredemakers te wees. Vrede was sy nalatenskap aan ons. Die vraag is: Wat maak ek met die kort tydjie wat aan my gegee word voordat Christus, die Vredevors, finaal kom?
Ek loof U, Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Amen.