Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe
mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.
– Efesiërs 4:31-32
Ons almal het ’n stokperdjie – iets wat jy uit vrye wil in jou vrye tyd doen omdat jy dit geniet en dit jou laat ontspan. Party mense lees graag, ander beoefen ’n sport soos gholf en sommige maak tuin. Wanneer ons ’n stokperdjie het, gee ons vrywillig ons aandag en tyd daaraan. En ek het agtergekom wanneer ons dit doen, raak ons gewoonlik beter met ons stokperdjie.
Ek wil jou as gelowige nooi om saam met my ’n nuwe stokperdjie by jou lys vryetyd-aktiwiteite te voeg. Kom ons maak dit ons nuwe doelbewuste stokperdjie om in ons geestelike en emosionele volwassenheid te groei en ons gedrag na buite te verbeter – tot eer van die Here se Naam. Dit kan ’n heerlike uitdaging word.
Kry vir jou ’n notaboekie en skryf die Bybelvers hierbo daarin neer. Dra jou boekie altyd met jou saam.
Daar is ’n hele paar opdragte in vandag se Bybelvers, en nie almal is ewe maklik nie. Neem voorraadopname van dit waarmee jy die meeste sukkel. Is dit jou humeur, jou bitterheid, kru taalgebruik of die manier waarop jy ander sonder respek hanteer? Het jy dalk ’n voorliefde om oneerlike dinge te doen? Of kort jou gesindheid en maniere ’n goddelike make-over? Dalk is jou klipharde hart jou grootste struikelblok.
Neem jou lysie na die Here toe en vra Hom om jou te help ontwikkel in ’n kind wat al meer soos Hy lyk. Maak dit jou nuwe stokperdjie.
Bruisgebed vir geestelike groei: Here, ek maak dit my nuwe stokperdjie om elke dag te ontwikkel in my geestelike en emosionele volwassenheid en gedrag na buite. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
