Die dinge wat ons sondige geaardheid ons laat doen, is bekend: seksuele sondes, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towerkuns, vyandigheid, rusie, jaloesie, woede,
selfsugtige ambisie, verdeeldheid, partyskappe, afguns, dronkenskap, wilde partytjies en al sulke dinge.
– Galasiërs 5:19
Wanneer ek skilder, gebruik ek altyd ligte en donker verfskakerings. Albei is nodig om ’n treffende skildery te skep. ’n Mens se oog beweeg altyd heel eerste na dié dele waar die kontras tussen lig en donker die sterkste is.
Om die lig goed uit te beeld het ons die kontras van die skaduwees nodig. Lig word slegs herken en waardeer langs die donker.
Skilderye herinner my aan ons innerlike reis as gelowiges. Almal het iets lig en mooi in hulle skildery, en almal het ’n donker skadusy. Party het groter skadu’s as ander. Daar is egter nie een mens – hoe gelowig ook al – wat net suiwer, goddelike wit lig uitstraal nie. Ons almal is skilderye met lig én skadu … skilderye in wording.
Hoe voel jy oor die skadu’s in jouself en jou lewe? Werk jy daaraan, of ontken jy dat dit bestaan? Baie gelowiges verkies om hulle donker kant te ignoreer en hulleself as net goed te verkoop. Met so ’n ingesteldheid mislei jy jouself en stuit jy die werking van die Gees.
Die Here nooi ons as sy kinders om gereeld voorraadopname van ons skadukante te neem. As ons hierdie donker dele nie erken nie, kan ons nie groei of die nodige kleuraanpassings in ons lewe maak nie.
Vandag se Bybelvers skilder vir ons ’n hele reeks eienskappe wat lei tot ’n “eie ek”- en selfbehepte lewensingesteldheid. Herken jy enige van hierdie eienskappe in jou lewe? Lees dan saam met my hierdie gedeelte gereeld – dit sal ons op ons tone hou.
Bruisgebed vir geestelike groei: Meester, skyn u lig op my en my hart sodat ek my donker kant kan raaksien en kan aanpas om u ligeienskappe in my lewe te ontwikkel. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.