“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
– Matteus 6:33
Die meeste mense het ’n toolbox met tools in hulle huis om hulle te help wanneer ’n krisis opduik. Ek self het ’n laai met ’n saag, ’n boor, ’n hamer, spykers, koorde, gom en al die ander dinge wat nodig is om te kan regmaak wat gebreek het.
Wanneer ek reis, maak ek ook seker ek het die nodige gereedskap in my motor om my te help as ek ’n pap wiel sou kry of in ’n ander noodsituasie sou beland.
In my lewe het ek egter gevind ek het ook ’n innerlike toolbox nodig om my te help om staande te bly tydens my daaglikse reis met al die uitdagings en toetse. Sonder hierdie geestelike toolbox sou ek nie bestand wees teen al die aanslae op my nie.
Hier is ’n paar items waarsonder ek nie kan klaarkom nie: ʼn gewilligheid om my aan die Here se wil te onderwerp sonder om in opstand te kom; kragproppe om by Hom in te prop om nuwe krag in ’n krisis te kry; gebed en geloof in sy 24/7-noodbystandplan in elke taai situasie; vertroue in my Raadsman, dat Hy in beheer van my lewe is en my nooit sal verlaat nie; dankbaarheid en blydskap wat die werking van sy Heilige Gees vrystel.
Ek het gevind as ek die Here se wil heel eerste in my toolbox pak en my daaraan onderwerp, Hy alles byvoeg wat ek nodig het om ʼn goeie lewensreis te geniet.
Bruisgebed vir reisigers: Vader, ek glo wanneer ek u wil heel eerste in my toolbox pak, U self alles vir my sal byvoeg wat ek op my reis deur die lewe sal nodig kry. Dankie daarvoor.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
